vervroegde puberteitVervroegde puberteit verwys na die verskynsel waar ‘n kind se liggaam op ‘n te vroee ouderdom in ‘n volwasse liggaam begin verander.  Dit kan met meisies sowel as seuns gebeur, maar meisies is 10 keer meer waarskynlik om aan vervroegde puberteit te lei as seuns.

Met normale aanvang van puberteit vind veranderinge in biologiese, psigiese en sosiale terreine min-of-meer gelyktydig plaas, maar met vervroegde puberteit is die tydsberekening van hierdie veranderinge totaal en al omver gegooi : die kind se liggaam begin reg maak vir die grootmenslewe terwyl die kind se psige beslis nog nie reg is daarvoor nie en as ‘n samelewing los dit ons geheel en al deurmekaar as dit kom by wat om te verwag.

Selfs wanneer puberteit op die regte ouderdom gebeur kan dit ‘n verwarrende tyd vir kinders en hul ouers wees, soveel te meer vir jong kinders.  Hulle is dalk bekommerd daaroor dat hul anders lyk as hul maats en moet met al die praktiese  gevolge van ‘n veranderende liggaam hanteer.

Ouers voel dikwels angstig oor hul kind se fisiese welstand asook die emosionele en sosiale implikasies wat hul kind dalk nie mag verstaan nie en wat moeilik mag wees om op ‘n baie vroee ouderdom aan jou kind te verduidelik.  Ons interaksies met kinders is dikwels gebasseer op hoe hul vir ons voorkom en mense mag meisies wat deur vroee puberteit gaan behandel asof hulle veel ouer is, en selfs ook ouderdoms-onvanpaste verwagtinge op hul plaas.

Wat is die oorsaak van vervroegde puberteit?

Wetenskaplikes het nog nie sekerheid oor wat presies vervroegde puberteit veroorsaak nie – in sekere gevalle is dit eenvoudig net geneties en in ander is daar ‘n onderliggende mediese probleem, maar daar is ook studies wat vervroegde puberteit aan ‘n ongesonde, hoe-suiker diet (en veral die tipe suiker wat in gaskoeldrank en versoete vrugtesappe voorkom) koppel.

Dit is dus altyd belangrik om jou kind aan te moedig om gesond te eet en ‘n aktiewe leefstyl na te volg.  Hou enige eksterne bronne van estrogeen of testosteroon, soos voorskrif medikasie wat dalk in huis mag rondle of dieet aanvullings wat estrogeen of testosteroon bevat (byvoorbeeld die aanvullings wat liggaamsbouers gebruik)  ver van jou kind af weg.

Wat doen ek as my kind tekens van vervroegde puberteit toon?

Moet dit nie net los nie! Dit is ‘n baie moeilike ding vir jong kinders om mee saam te leef en moet nooit net eenvoudig as ‘n “natuurlike proses” aanvaar word nie – vervroegde puberteit kan verkeie mediese oorsake he wat dalk so gou as moontlik behandel moet word, en maak ook ‘n kind se kans om sekere siektes te onwikkel groter.

Neem jou kind dadelik vir ‘n mediese ondersoek, dit is belangrik om die  rede vir vervoegde puberteit te ondersoek.  Indien dit ‘n eenvoudige geval van vroee hormoon vrystelling is kan ‘n middel wat verdere ontwikkeling vertraag maandeliks in die vorm van ‘n inspuiting toegedien word.  Die kind hou aan om die behandeling te kry totdat hy of sy die normale ouderdom vir puberteit bereik het en ses maande nadat behandeling gestaak het,begin die proses van puberteit weer vanself.

Kinders wat aan vroee puberteit lei is dikwels korter as ander kinders in hul ouderdoms groep omdat hul groei-fase vroeer stop wanneer die liggaam deur puberteit gaan, ‘n verdere belangrike rede vir behandeling om plaas te vind is dan ook om kinders toe te laat om ‘n normale volwasse lengte te bereik.

Skole begin eers in later jare met kinders oor puberteit en seksuele ontwikkeling praat, dit is dus belangrik dat ouers al van ‘n vroee ouderdom af op ouderdoms-gepaste wyse met hul kinders oor puberteit en liggaamsveranderinge praat.