slaapOm te verstaan hoe belangrik slaap vir ons oorlewing is, is dit belangrik om te kyk na wat gebeur as jy nie genoeg slaap nie. ‘n Tekort aan slaap het ‘n skrikwekkend negatiewe effek op die brein waarvan knorrigheid, prikkelbaarheid, onstuimige emosies, vergeetagtigheid, die onvermoë om te konsentreer, ‘n aangetaste geheue en swak taalbeheer maar enkele voorbeelde is.

Ná sewentien uur sonder slaap is ‘n mens se vaardighede gelyk aan dié van iemand met ‘n bloedalkoholvlak van 0,05% – die gevolg van twee glase wyn. Dis genoeg om jou agter tralies te laat beland…

Die liggaam gebruik feitlik net soveel energie om te slaap as wanneer ‘n mens wakker is. Jou staat van slaap of wakkerheid word deur die brein se oordragstowwe beheer. Dié stowwe skakel die neurone wat ons laat wakker bly af en maak ons vaak. Deur die dag bou daar ook ‘n chemiese stof, adenosien, in ons bloedstroom op wat ons lomerig maak. Adenosien word weer afgebreek snags wanneer ons slaap. Ons glukose reserwes word ook gedurende slaap opgebou sodat ons genoeg energie het vir die dag wat kom. En in kinders gebeur die afskeiding van groei hormone net terwyl hul slaap!

Kenners meen dat die laerskool kind ten minste 10 ure slaap moet geniet elke aand. Maar dit is makliker gese as gedaan – veral met kinders se besige skool programme, buitemuurse aktiwiteite,hulle sosiale verpligtinge en groeiende belangstelling in stimulerende tegnologie soos rekenaar speletjie, die internet, en televisie programme.

Slaap is absoluut noodsaaklik vir leer.  Dink daaraan as jou brein se sekretaresse – gedurende die dag hou jou brein hom meestal daarmee besig om inligting in te neem, maar dit is gedurende slaap dat die brein hierdie inligting analiseer en in ons langtermyn geheue stoor.

Hoe kan jy jou kind help om beter slaappatrone vas te stel?

  • ‘n Koel, donker kamer sonder televisie word aanbeveel, en enige vorm van kaffeine moet vermy word naby aan slaaptyd.
  • Vestig die idee dat jou kind se bed net vir slaap is en dat slaap net vir die bed is – dit help die brein om die konneksie te maak tussen die bed en slaap. ‘n Kind wat gereeld op sy bed sit en speel en huiswerk doen of wat gereeld op die bank of vloer aan die slaap raak mag slegte slaap gewoontes ontwikkel.
  • Kry vir jou kind ‘n bekommernisboek wat sy langs haar bed kan hou en moedig haar aan om al haar kwellinge daarin neer te skryf – dit sal help dat sy nie in die middel van die nag wakker word met gedagtes wat haar pla nie.
  • Vermy ‘m swaar maaltyd 1 of 2 ure voor slaaptyd, maar moet ook nie dat die kind honger gaan slaap nie
  • Beplan ‘n rustige uur of meer voor slaaptyd. Probeer televisie, rekenaar speletjjies en huiswerk vermy.  ‘n Warm bad, tandeborsel en miskien ‘n slaaptydstorie is voorbeelde van aktiwiteite wat as roetine in die tyd ingesluit kan word.
  • Dit is belangrik dat kinders van kleins af leer om in hulle eie beddens aan die slaap te raak. Dit moet ook ‘n roetine raak dat die kind na sy eie bed en kamer toe geneem word, en dat hy of sy daar aan die slaap raak.
  • Die slaapkamer moet so ver moontlik geassosieer word met goeie gevoelens, met ‘n soentjie en drukkie voor slaaptyd. Dis belangrik dat hierdie nie die kamer moet wees waar die kind gaan wanneer hy gestraf word nie.