Lianna Morrison het bygedra tot die artikel hieronder getiteld “Wenners wil ons wees!” wat in die Februarie 2014 uitgawe van die tydskrif Lig! verskyn het.  Susan Goosen het die artikel geskryf.

 

Wenners wil ons wees!

 

Kinders tydens skool wedloop

Vir baie skoolkinders, en hulle ouers, is sukses sinoniem met wen.

Skole bied vele geleenthede waar kinders kan kragte meet en hulle staal kan wys. Diegene wat kop en skouers bo die ander uitstaan, floreer, terwyl die res in die stof byt en druipstert huis toe gaan. Hoe moet kinders al die wedywering hanteer? En hoe maak jy ʼn gesonde kompeteerder groot?

 

Wat is sukses?

Wanneer jy mense uitvra oor die betekenis van sukses, en hulle belewing van kompetisie, sal jy heel waarskynlik uiteenlopende menings kry. Sportmanne en vroue onthou dikwels dekades later nog die gevoel van afwagting en die ekstase of intense teleurstelling van ʼn spesifieke sportbyeenkoms. Dit geld selfs vir diegene wat nie deelgeneem het nie, maar bloot toeskouers was.

 

Vir baie skoolkinders, en hulle ouers, is sukses sinoniem met wen. Mev Adelita Botha is die Departementshoof Menslike Bewegingskunde by ʼn Laerskool in Rustenburg en was ook vir ag jaar die sportwetenskaplike by ʼn hoërskool. Sy was al by tientalle sportbyeenkomste en kompetisies betrokke en glo dat skoolkinders, en selfs laerskool leerders, deesdae onder geweldige druk is om op die sportveld of in ander areas te presteer. Daar is baie wedywering tussen skole en ouers meet dikwels ʼn skool aan sport spanne se prestasies.

 

Lianna Morrison, ʼn Opvoedkundige Sielkundige in Hermanus, verduidelik dat jou spesifieke definisie vir sukses jou benadering tot, en ervaring van, kompetisies beïnvloed. “Vir een kind is dit om die beker te verower en vir ʼn ander een is dit dalk sy spesifieke bydra tot die wedstryd of oorwinning. Om te presteer beteken egter nie noodwendig dat jy as wenner uit die stryd getree het nie, maar eerder dat jy ʼn nuwe vlak bereik het of jou sport en eie vermoëns beter verstaan. Kinders, onderwysers en ouers wat hierop fokus, en nie gedurig na die telbord kyk nie, het ʼn meer gebalanseerde uitkyk ten opsigte van sport en kompetisie.”

 

Die voordele van kompetisie

Kompetisie wat reg ingespan word, hou vele voordele vir die deelnemers in. Mev Elizma van der Smit, ʼn Kliniese Sielkundige in Klerksdorp, verduidelik dat kinders waardevolle lewenslesse soos die volgende kan leer:

 

–       Kompetisie leer kinders om by die reëls van die spel te hou.

–       Kinders kan leer om goeie wenners en goeie verloorders te wees. Indien daar nie oordrewe klem om wen is nie, leer kinders om die wenner geluk te wens en nie te oorreageer nie.

–       Deelnemers leer die waarde daarvan om jou beste te gee. Indien jy regtig jou deel gedoen het, kan jy goed voel, selfs wanneer jy verloor.

–       Kompetisie kan ʼn gesonde selfbeeld help bou.

–       Deelname leer kinders om vriende te maak en te sosialiseer.

–       Dit leer kinders om doelwitte te stel.

–       Dit leer hulle om verlies (verloor) te hanteer.

–       Fisiese- en breinvaardighede word verbeter.

–       Dit kan kinders se gewildheid bevorder.

–       Dit bevorder vinnige besluitneming en probleemoplossingsvaardighede.

–       Deelname aan kompetisies leer kinders om voor ander op te tree en druk te hanteer.

–       Kinders leer die waarde van spangees en die belangrikheid van spanwerk.

 

Wanneer is kompetisie nie goed nie?

Adelita glo dat kompetisie nadelig raak wanneer die genot daarvan sekondêr raak. Sy verduidelik dat, wanneer die klem uitsluitlik op wen val, kompetisie die volgende nadelige gevolge vir kinders inhou:

 

–       Verhoudings ly skade. In plaas daarvan dat kinders hoor hoe wonderlik dit is dat hulle so lekker rondgehardloop het en mooi deelgeneem het, word hulle beskuldig dat hulle nie die bal reg hanteer het nie en dat hulle voetwerk nie na wense was nie. Kinders wil graag weet dat hulle ouers hul onvoorwaardelik aanvaar, selfs wanneer hulle nie met die louere wegstap nie.

–       Kinders kry ʼn weersin in sportdeelname. Ek het al dikwels leerders gesien wat op laerskool uitsonderlik presteer het, maar verseg om weer in die hoërskool betrokke te raak.

–       Ons kweek onaktiewe volwassenes. Daar is deesdae soveel heerlike geleenthede vir volwassenes om aan pretlope, fietsrenne en ander wedlope deel te neem. Tog verkies baie leerders om nooit weer na skool deel te neem  nie – hulle is moeg daarvoor om iemand anders se drome na te jaag.

–       Navorsing bewys dat goeie sportmanne en –vroue vir ongeveer tien jaar lank op die hoogste vlak aan kompetisies deelneem. Hoe vroeër hulle begin, hoe groter is die kans dat hulle loopbane baie vroeg gaan eindig, weens watter rede ook al. Dit sluit beserings of uitbranding uit.

–       Baie strawwe oefening en deelname het ook fisiese nadele. Dogters wat baie hard oefen, het byvoorbeeld ʼn baie kort, ligte of selfs geen menstruele siklus nie of hulle begin baie laat menstrueer. Dit kan hormonale probleme veroorsaak wat weer aanleiding gee tot ander probleme. In sommige sportsoorte, soos ruiterkuns, dans, stoei en boks, waar gewig ʼn rolspeel, is daar dikwels geweldig baie klem op dieet en voorkoms. Dit kan lei tot eetversteurings, swak selfbeeld en ander probleme.

 

Lianna sluit hierby aan. “Kompetisie kan ook nadelig wees wanneer dit daartoe lei dat kinders, en veral sibbe, met mekaar vergelyk word. As daar te veel druk is om te presteer kan kinders uiteindelik ʼn gevoel van mislukking en ʼn lae selfbeeld ontwikkel. Party ouers en onderwysers moedig ʼn houding van “wen bo alles” aan en is selfs bereid dat deelnemers kul of ander deelnemers beseer in hulle soeke na goud – watter lewenslesse leer kinders hieruit?”

 

Meer oor: Wat is ʼn goeie sportman?

Adelita definieer ʼn goeie sportman as iemand wat sy sterkpunte ken en dit tot sy voordeel gebruik. “Hy is egter realisties oor sy swak punte en nie blind vir sy eie foute nie. Hy blameer dus nie sy spanmaats, of die skeidsregter, wanneer dinge skeefloop nie. Hy kan erken as hy nie die beste was nie en kan sy opponent opreg gelukwens.

 

“ʼn Goeie sportman is gedissiplineerd en gefokus wanneer hy oefen, maar behou balans in sy lewe en verhoudings.”

 

Beste raad: Maak ʼn goeie sportman groot

Lianna moedig ouers aan om hulle kinders se unieke persoonlikheid te erken. “Ons is nie almal sportmanne, kunstenaars of akademici nie, maar ons kan almal aktiwiteite op ons eie vlak geniet. Dit het veel meer waarde om intrinsieke motivering te ontwikkel deur leiding te gee en kinders aan te moedig, want op hierdie manier word karaktereienskappe soos deursettingsvermoë ontwikkel. Stel toepaslike uitdagings – vra vir jou kind wat hy graag wil bereik en wat hy van sy vertoning dink.”

 

Elizma gee ook die volgende wenke:

 

–       Hou in gedagte dat nie alle kinders wedstryde en kompetisies geniet nie. Party kinders is van nature kompeterend, terwyl ander daarvan wegdeins. Moenie jou baie kompeterende kind nog verder druk nie. Dit kan egter soms nodig wees om jou teruggetrokke kind aan te moedig om aan toepaslike aktiwiteite deel te neem.

–       Vir party kinders is dit baie moeilik om te verloor. Gesels rustig oor hulle ervarings, maar moenie hulle gevoelens as onbelangrik afmaak nie. Vir hulle is dit moeilik en swaar.

–       Laat jou kinders toe om foute te maak en moenie gedurig kritiseer nie. Foute is deel van die leerproses.

–       Stel belang en ondersteun jou kind sonder om te intens te wees.

–       Moedig jou kind aan om sy aktiwiteite te geniet. Respekteer sy besluit wanneer hy nie langer met iets wil aangaan nie.

–       Onthou dat jou kind se sport nie oor jou gaan nie. Dit is nie die geleentheid om jou eie drome te laat waar word of jou vrese te besweer nie.

–       Moenie verskonings maak wanneer jou kind verloor en byvoorbeeld die afrigter of ander kinders blameer nie.

–       Fokus op deelname eerder as op wen. Gesels met jou kind oor sy ervarings en oor dit wat hy geleer het. Komplimenteer hom wanneer hy hard gewerk en met ʼn mooi gesindheid deelgeneem het. Sê: “Ons is altyd so trots wanneer jy jou bes gedoen het.”

–       Moenie hou kind verneder deur te kritiseer of instruksies te skree terwyl hy kompeteer nie.

–       Respekteer die afrigter en moenie sy rol probeer oorneem of sy werkswyse kritiseer nie.

–       Ondersoek ook jou eie gedrag. Watter voorbeeld stel jy? Hoe hanteer jy kompetisie? Kan jy met ʼn glimlag verloor? Fokus jy slegs op een area van jou kind se lewe en ignoreer die res? Prys jy jou kind se poging eerder as die resultaat?

Nog wenke wat werk

–       Neem as gesin aan pretlope en ander wedlope deel waar wen nie belangrik is nie. Daar is baie padwedrenne of bergfietskompetisies waar die klem op gesinsdeelname val.

–       Speel bordspeletjies en lag saam oor julle foute. Moedig mekaar aan en wens saam die wenner geluk.

 

Onthou ook:

Leer jou kind dat kompetisie ‘n manier is om homself te meet en te sien of sy voorbereiding reg is.  As jy alles gedoen het waaroor jy beheer het en dit was nie goed genoeg nie, moet jy aanvaar jy nie die beste is nie.  Wens jou opponent geluk en verlaat die veld met jou kop omhoog.

Adelita Botha, Onderwyseres en Afrigter

 

Meer oor: Hoe lyk ʼn skool met ʼn gesonde kompetisie gees?

Lianna glo dat skole ook kinders moet akkommodeer wat glad nie sportief is nie en ook erkenning moet gee aan kinders wat elke dag getrou oefen, maar nooit regtig presteer nie. Alle aktiwiteite: skaak, dans, debat, koor, fietsry, rugby en netbal behoort gelyke erkenning te kry.

 

Sy verduidelik voorts dat die gevaarligte moet flikker wanneer daar uitermate baie gefokus word op prestasie en eksklusiwiteit. “Ek weet van skoolfunksies waar nie net die eerste rugbyspan nie, maar ook hulle ouers, apart van die ander gesit het. Dit ontwikkel slegte gevoelens tussen kinders en ʼn ‘ons is beter as julle’ houding. Dit is seker waar dat dit die uitgekose leerders verder motiveer, maar vir die oorgrote meerderheid van die kinders gee dit slegs aanstoot.

 

“Individue binne ʼn span mag nie uitgesonder word nie en onderwysers en ouers moet daarteen waak om kinders of families voor te trek. Ongelukkig is ouers hier dikwels skuldig en daar word dikwels druk op skole geplaas om sekere kinders te bevoordeel. Daar behoort gevra te word hoekom dit so belangrik vir die ouers is en watter boodskap die skool uitstuur wanneer hulle hieraan toegee.”

 

Onthou ook:

“Kinders moet eintlik eers aan kompetisie gedrewe sportsoorte begin deelneem wanneer hulle ongeveer tien jaar oud is. Sesjariges verstaan byvoorbeeld nie regtig die konsep van kompetisie nie – almal wil die bal hê. Kinders jonger as tien het ook min begrip van vermoë en insette en daarom word hulle dikwels geweldig gefrustreerd wanneer hulle verloor.”

 

Elizma van der Smit, Kliniese Sielkundige

 

Beste raad: Buitemuurs – hoe kies ons en wanneer is dit te veel?

Adelita moedig ouers aan om saam met hulle kinders hulle buitemuurse programme en aktiwiteite te beplan. “Hierdie aktiwiteite moet ten doel hê om jou kind in sy geheel te ontwikkel. Daar moet dus altyd ʼn balans ten opsigte van die verskillende aktiwiteite wees.

 

“Gesels saam met jou kinders oor wat hulle prioriteite is. Dit sal natuurlik verskil van persoon tot persoon. Verduidelik byvoorbeeld dat julle gesinsverhoudings en akademiese verpligtinge altyd die belangrikste is. Wanneer buitemuurse aktiwiteite dus hiermee inmeng, is dit nie meer gesond nie. Buitemuurse aktiwiteite behoort ook nie onnodige finansiële druk op die res van die gesin te plaas nie.”

 

Volgens Elizma moet kinders dit geniet om aan hierdie aktiwiteite deel te neem en gemotiveerd wees om byvoorbeeld te oefen. Indien jou kind uitermatig gespanne is voor wedstryde, besonder ontsteld is wanneer hy verloor, sy waarde meet aan sy prestasies of  nie meer tyd kry om sommer te speel of stokperdjies te beoefen nie, is dit ʼn teken dat julle moet afskaal.

 

Onthou ook:

“Baie min volwassenes sê: ‘Ek wens my ouers het my vir meer ekstra klasse gestuur of vir my duurder speelgoed gekoop’. Die meeste sê eerder: ‘Ek wens ek het meer tyd met my ouers spandeer’. Moet nooit die waarde van jou tyd met jou kind onderskat nie! Los eerder al die ekstras, behalwe as dit regtig nodig is en spandeer daardie die tyd saam!”

Lianna Morrison, Opvoedkundige Sielkundige