Kyk, as daar nou ‘n onderwerp is wat ‘n frons op meeste ouers se gesigte sal laat verskyn dan is dit seksvoorligting vir kleuters!  Om seksvoorligting met tieners te doen is al klaar moeilik en baie ouers voel dat seksvoorligting vir kleuters heeltemal irrelevant is.  Maar dit is beide relevant en baie nodig op so ‘n jong ouderdom.   Nie net sodat dit kinders kan inlig oor molestasie en hoe om hulself so ver moontlik hierteen te  help beskerm nie, maar ook omdat seks ‘n natuurlike menslike drang is en om te dink dat jong kinders nie seksuele wesens is nie is foutief. ‘n Jong kind se nuuskierigheid oor sy eie ligaam, geslagsdele en seks is natuurlik en onskuldig en om dit te ignorer of as sleg af te maak kan tot seksuele probleme later in die kind se ontwikkeling lei.

Hoe gemaak nou -wat vertel jy ‘n kind van 5 tot 6 jaar oor seks?  Die eenvoudigste reel is om presies te antwoord wat hulle vra.  Ouers skrik partykeer so groot as hulle kinders oor seks begin uitvra dat hulle of heeltemal te veel inligting gee of andersins geen inligting gee nie. By voorbeeld, as jou kind vra: “Mamma, wat is seks?” antwoord eenvoudig: “Dit is hoe ‘n getroude paartjie (of groot mense wat vir mekaar baie lief is – afhangend van jou siening hieroor) vir mekaar wys dat hulle mekaar baie lief het”. As hulle vra “Waar kom babatjies vandaan?” antwoord eenvoudig “’n Pappa plant ‘n saadjie binne-in ‘n mamma se maag en dan groei die babatjie hier totdat hy groot genoeg is om soos ons buite die mamma se maag te lewe”. Beklemtoon dat seks ‘n baie spesiale ervaring is en dat dit iets is waarvoor mens moet wag totdat jy oud genoeg is en heetemal seker is dat jy daarvoor reg is.

Om die word seks / penis / vagina te versag gee kinders die indruk dat dit iets sleg is waaroor nie eintlik gepraat moet word nie. Dit het ook al in die verlede die verklarings van kinders wat wel verkrag of gemolesteer is onbruikbaar gemaak omdat hierdie versagtende woorde vir die geslagsdele as te vaag beskou was en die kinders nie in detail kon beskryf wat presies gebeur het nie – en die oortreeders het skot vry daarvan af gekom!

Ouers bekommer hulle soms daaroor dat inligting oor seks op so ‘n vroee ouderdom kan lei tot vroee seksualisering of eksperimentele gedrag.  Maar dit het eintlik die teenoorgestelde uitwerking.  Korrekte, ouderdomstoepaslike inligting oor seks verhoed dikwels dat kinders hul volhou met eksperimentele gedrag. Kinders wat of die verkeerde inligting kry (gewoonlik by hul maatjies of ouer kinders) of geen seks opvoeding kry nie eksperimenteer dikwels omdat hulle nuuskierig is oor seks maar te bang is om eerlike vrae hieroor aan hul ouers te stel.

‘n Mens kan jou kind teen molestering beskerm sonder om seks negatief te laat klink, deur eerlik met hulle daaroor te praat. ‘n Eenvoudige manier om dit te doen is om hulle te vertel dat ons dikwels na die geslags dele (jou penis, vagina, ens) verwys as “privaat dele” omdat dit spesiaal en privaat is – dit is net vir jou kind. Verduidelik aan hulle dat hierdie “privaat dele” alles insluit wat deur ‘n swembroek bedek sal word en dat niemand anders as hulle self daaraan mag raak nie. Leer kinders ook om hulself hier te was gedurende badtyd en herinner hulle gereeld dat hulle jou moet vertel sodra enigiemand anders aan hul “privaat dele” probeer raak of selfs net met hulle daaroor wil praat.

Tot op watter ouderdom is naaktheid van verskillende geslagte aanvaarbaar?  Kinders verskil as dit kom by naaktheid. Party voel baie vroeg al ongemaklik as iemand van die teenoorgestelde geslag (dikwels selfs ook van dieselfde geslag) hulle naak sien en ander is tog te gemaklik in hul verjaardig pakkie, maar gewoonlik begin kinders so teen die ouderdom van 5 of 6 jaar baie bewus raak van die verskille tussen die geslagte en sal gewoonlik van self probeer toehou as ma of pa in die badkamer in kom. Ek voel persoonlik dat kinders van teenoorgestelde geslagte teen skoolgaande ouderdom nie meer saam moet bad of ‘n slaapkamer moet deel nie.

Hoe behoort jy dit te hanteer wanneer jou kind iets seksueels op televisie gesien het, of by ‘n maatjie gehoor het (of op julle ingestap het!) wat eintlik nie ouderdomstoepaslik is nie?  Bly kalm en praat, praat, praat hieroor. Verduidelik weereens dat dit is hoe grotmense / getroude mense vir mekaar wys dat hulle mekaar lief het maar dat dit iets BAIE spesiaal en BAIE privaat is en iets wat mens nie eintlik met ander deel nie en dat jou kind eerder vir jou moet kom vra as hul enige vrae hieroor het. Gaan koop dan so gou moontlik ‘n GROOT slot vir jul slaapkamer deur 😉

 Hoe moet jy dit hanteer as jou kind in die openbaar masturbeer of jy hom en ‘n maatjie betrap waar hulle mekaar betas?  Weereens is dit uiters belangrik dat jy dit op ‘n kalm manier aanspreek.  Verduidelik weer dat mens se geslagsdele (se “jou vagina / penis”) privaat is en dat jou kind self die enigste person is wat daaraan mag raak. Verduidelik dat jy verstaan dat dit partymaal goed voel om aan hierdie geslagdele te raak, maar dat dit iets is wat hulle slegs moet doen as hulle aleen in hul kamer of in die badkamer is. En bly dan by hierdie reel – as jy jou kind betrap waar hy alleen in sy kameer masturbeer met die deur toe is dit verkeerd van jou om hom hieroor uit te trap!

 Probeer om spesiale gespreksgeleenthede te skep om met jou kleinding oor seks te praat.  Begin ook so vroeg as moontlik al met jou kind te praat oor seks. Tydens badtyd of terwyl julle aantrek, antwoord alle vrae so eerlik as moontlik en moet nooit se dat jy hulle “eendag sal vertel as hulle groot genoeg is nie”. Kinders praat al met hul maatjies oor seks nog lank voordat ouers eers die moed bymekaar skraap om tydens hul tiener jare met hulle hieroor te praat. Ek dink juis daaraan terug dat ek in graad 1 al my eerste vuil grappie gehoor het – en dit ten volle verstaan het – jare voordat my ouers of die skool eers met seksopvoeding begin het.

 

Dit is nie genoeg om net een keer met jou kind oor seks te praat nie.  Probeer eerder om die onderwerp gereeld aan te roer.  Antwoord jou kind se vrae eerlik en  praat gereeld met jou kind hieroor as die oomblik “reg voel” m.a.w as julle albei rustig en in ‘n goeie bui is maar moet nooit volhou as jy kan sien dat jou kind ongemaklik voel met hierdie onderwerp of dat jy nie sy volle aandag het nie. Jy kan ook vir ouer kinders ‘n boek of die adres van ‘n goeie, ouderdomstoepaslike webwerf gee waar hulle self oor seks kan gaan oplees.